Bevry
Omring deur tale, bly ek stom, donker in gemoed en my weëmoed luid,
tot Afrikaans se lieflik lig oor my kom verskyn, sò deurtastend wyd.
Soos ‘n warm Afrikadag het dit oor my kom breek in kleure wat skitter,
het dit vir my die taalsonsopkoms geword, wat my gees ontbitter.
Stuk-stuk het dit my tong ontknoop, geleer om woorde oop te breek,
getroetel in haar warm teerheid, my praat geweef steek vir steek.
Vertoef ek nou tuis en gekoesterd styf in my taal se hittearms omkring,
ontdooi dit my gees en intellek, verhelder dit asof uit koue gewring.
Ontkiem dit my unieke Afrikaanse gemoed tot volledig in trotse glorie,
vermurf, omskep en herskep dit my vroeëre donkerdrag tot ‘n ligeuforie.
Deur my blydskap-trane benat ek haar vir groei in haar sonskynkrag
en so ontwaak, ontwikkel sy sedert as my hartbloeisel, tot fraaie prag.
Kruisbestuif deur ander tale, of self geskep, groei sy tot volle wasdom
bied sy ‘n soetsmaak offer, volmaak met stuifmeel en nektar se gom.
In Afrikaans pronk ek met haar kleurryke skoonheid en loof oop gesprei,
alleen maar in my taal kan ek gedy, is ek vir altyd van stomheid bevry.
Jan van Wyk
Behoort aan mekaar
Jy het my gekies
om plat op jou bors te kom lệ
om die soetste soet in jou melk
speel-speel oor my tong te laat rol
jy het my in jou skoot laat slaap
liedjies geneurie, my ore klein
gevorm, jy was opgestapel
in my grootword, my binneste
was met jou bakstene gebou
ek was in jou en jy in my
tyd nou wil haarself anders noem
nuut, sy wil my konstant herbou
maar ek is ‘n muur, ‘n vertrek
‘n hele huis gebou in jou
ons vensters is massief, ons kan
tot in die ander wệreld sien
want ek is jy en jy is ek
ons het menige ingange
ons deure is alewig oop
in elke kamer ‘n tafel
‘n stoel-gemak wat welkom heet
my huis, jou huis,
ek, jy my taal.
Diana Ferrus